Stille stryder vir Afrikaans

afrik.png

Al sê akademici die Afrikaansvuur brand nie meer so hoog nie, is dit die klein, smeulende kooltjies wat dié taal van uitwissing kan red.

Dié klein kooltjies is wat dr. Susan Smith, digter en hoof van die departement Afrikaans by die Fort Hare-universiteit in Oos-Londen, in die harte van jong studente aanblaas.

"My werk is hiér. Daar is genoeg mense wat in Stellenbosch op die verhoog kan klim en vir die taal baklei. Aan so 'n aggressiewe debat neem ek nie graag deel nie," sê Smith, wat in 2002 bekroon is met die Premierstoekenning van die departement van kuns en kultuur in die Oos-Kaap vir haar bydrae tot die Afrikaanse taal en letterkunde in die Oos-Kaap.

Toe die Afrikaansdepartement van die Fort Hare-universiteit in Alice in 2004 weens lae studentegetalle sluit, het juis dié debatte en noodkrete woes deur die land getrek oor die taal nou kwansuis besig is om te sterf.

Die Rhodes-universiteit het in 1997 'n satellietkampus in Oos-Londen geopen, waar Smith Afrikaans gedoseer het. In 2005 het die Rhodes-satellietkampus saamgesmelt met die Fort Hare-universiteit.

Smith het toe die kans gekry om 'n volledige Afrikaansdepartement tot stand te bring.

In 2005 is daar met net nege eerstejaars begin en vanjaar is 109 studente vir die vak Afrikaans ingeskryf. Van dié groep is daar twee doktorale, twee MA- en vier honneursstudente.

Baie van die voorgraadse studente is Xhosa- of Engelssprekend en neem dus die taal as hul tweede of derde taal.
Smith verduidelik op voorgraadse vlak word die vak in twee strome verdeel: prakties en akademies. Veral die nie-Afrikaanssprekendes bestudeer die taal op praktiese vlak.

Daar is egter ook studente wat baie negatiewe persepsies oor die taal het, maar Smith spog dat die persepsies nie van lange duur is nie.

Smith en haar medelektor, mev. Shamiega Chaudhari, verduidelik sommer op eerstejaarsvlak aan nie-Afrikaanssprekendes dat jy nié jou eie taal, geskiedenis en kultuur verraai deur Afrikaans te neem nie.

"Van die negatiewe persepsies is dikwels deur die geskiedenis heen en selfs op skoolvlak in die studente ingemessel. Hul ouers se idee rondom Afrikaans het ook 'n groot invloed op hoe húlle die taal sien en ervaar. Ons probeer om ons klasse prettig te hou om dié idees af te breek. Dit is in dié klasse wat die studente vir die eerste keer leer hoeveel hul eie taal en kultuur Afrikaans beïnvloed het.

"Dan besef hulle Afrikaans is nié 'n Europese taal nie, maar ons éie taal. Dan dink hulle, 'hei, ek kan mos 'n stukkie van my hart ook vir dié taal gee'."

Smith debuteer in 1997 in Nuwe Stemme 1 en van haar gedigte word daarna in verskeie publikasies opgeneem, o.a. in Groot verseboek (2000), Versereise (2001), Raamwerk 11 & 12 (2001), Pret met poësie (2007), Versjoernaal (2008), Groot verseboek (2008), De Onbestemmelingen (2011) (saam met 'n Nederlandse vertaling van haar gedig deur Gerrit Komrij) en Vonkverse (2011). Een van haar gedigte is nasionaal voorgeskryf vir gr. 12-leerlinge.

René-Jean van der Berg

http://www.rapport.co.za/Suid-Afrika/Nuus/Stille-stryder-vir-Afrikaans-20101120